Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 15 AUGUSTUS 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Bill Gibson, ZS6ZC, ook as "Uncle Bill" aan baie radioamateurs bekend, se sleutel het na ’n lang siekbed op Maandag 9 Augustus stil geraak.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RTA GAAN VOLGENDE SATERDAG NA PORT ELIZABETH

SA AMSAT SE CUBESATPROJEK BLY NAAMLOOS

OKOSA SKRYF NUWE REGULASIES

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

RTA GAAN VOLGENDE SATERDAG NA PORT ELIZABETH

Die SARL se simposium Radiotegnologie-in Aksie 2010 sal op Saterdag 21 Augustus in Port Elizabeth gehou word. Dit sal plaasvind in lesingsaal M223 in gebou 23 van die noordelike kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

Die program sluit onderwerpe oor ’n wye veld in. Vind uit hoe DSP die oudio van jou ontvanger kan verbeter, kom op datum met navorsing in ruimteweer in Suid-Afrika, verstaan wat die SKA-projek vir wetenskap in Suid-Afrika beteken en leer aangaande die eerste 3-eenheid Cubesat wat by die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie gebou word en hoe om met amateurradio-rigtingpeiling te begin.

Die registrasiefooi van slegs R50, wat by die deur betaalbaar is, sluit verversings en ’n ligte vingerete in. Dit sluit ook deelname aan die trekkingskompetisie vir bywoning in, wat deur RS Components en andere geborg word. Vir skoliere en studente is bywoning gratis met vertoning van hulle studentekaarte.

Die volle program kan van www.sarl.org.za afgelaai word. Klik op die RTA-knoppie in die linkerhandse spyskaart op die tuisblad. ’n Kaart is op die RTA-bladsye beskikbaar. Ten einde te versoek dat ’n program aan jou gepos word, stuur ’n e-pos aan rta@sarl.org.za met PE RTA in die onderwerpblokkie.

Moenie hierdie groot jaarlikse SARL-gebeurtenis misloop nie.

SA AMSAT SE CUBESATPROJEK BLY NAAMLOOS

Die komitee van SA AMSAT het die afgelope week al die name wat sy Cubesatprojek voorgelê is oorweeg maar het bevind dat geeneen van die voorgestelde name geskik is nie. Die komitee het besluit om die benaming van die projek agterweë te hou totdat daar finaliteit oor die loonvragte bereik is. Verskeie loonvragopsies is onder oë geneem maar finaliteit is nognie bereik nie. Die komitee het egter die opsies na twee verminder. Die eerste is een wat daarop gerig is om satellietgebruik deur amateurs in Suid-Afrika te bevorder en die tweede is ’n projek van wetenskaplike aard wat ook belangstelling vanuit die onderwyssektor sal wek.

Die komitee het ook besluit om gereelde satellietnette, genaamd SATNET, te hou. Dit sal op dieselfde basis as Integnet geskoei wees met deelnemende stasies in verskeie stede. Die eerste SATNET word vir Sondag 29 Augustus om 19:30 beplan. Die onderwerp vir bespreking sal gaan oor loonvragte vir die Cubesatprojek. Meer besonderhede sal in volgende week se SARLNUUS ingesluit word en sal ook beskikbaar wees op www.amsatsa.org.za.

OKOSA SKRYF NUWE REGULASIES

OKOSA is besig om nuwe regulasies vir alle radiodienste te skryf. Die regulasies sal aansluit by die Tabel van Frekwensietoekennings wat verlede week in die Staatskoerant gepubliseer is. Bykomende bandplanne sal ook ontwikkel word wat, in die geval van amateurradio, die toekennings vir amateurradio sal dek met insluiting van voorwaardes waarvolgens die bande gebruik mag word, soos modusse en toegelate kragvlakke.

In die Tabel van Frekwensietoekennings is ’n BLF-gedeelte aan amateurradio toegewys, nl. 135,7 - 137,8 kHz. Die gebruik van hierdie toekenning moet egter wag tot tyd en wyl die bykomende bandplan gepromulgeer is. Tydens die SARL – OKOSA se samewerkingsvergadering van verlede week het OKOSA onderneem om as ’n tydelike vergunning die BLF-toekenning by die bestaande regulasies by te voeg. Dit sal ’n kennisgewing in die Staatskoerant benodig. OKOSA het onderneem om dit voor die volgende samewerkingsvergadering in November te doen.

Die SARL het OKOSA versoek om SAOG-ooreenkoms wat radioamateurs in die SAOG-lande toelaat om in elkander se lande sonder die nodigheid van addisionele lisensies of permitte uit te saai, te bespoedig. Aangesien die SARL hierdie versoek meer as ’n jaar gelede gerig het, is OKOSA aangespoor om hierdie ooreenkoms so spoedig moontlik af te handel, ook voor die volgende vergadering. Die voorsitter van die vergadering het aangedui dat hierdie reëling alreeds geldig is vir kommersiële voertuie wat oor grense bedrywig is en hy het onderneem om die proses te bespoedig.

Sedert die totstandkoming van die samewerkingskomitee is ’n aantal sake uitgeklaar wat insluit die uitbreiding van die 40 m-band, die vergunning aan alle gelisensieerde radioamateurs om gedurende die Wereldbekersokkertydperk stasies te bedryf, asook dieselfde vergunning aan afgevaardigdes na die 2011 IARU Streek 1 se konferensie in Augustus 2011 en vereenvoudiging van die aansoekproses vir gebruik van spreispektrum.

OPBETAALDE LEDETAL BEREIK 1 100

Gedurende verlede week het die opbetaalde ledetal 1 100 bereik. Dit is egter nog vêr van die mikpunt van 1 600. Indien u nognie hernu het nie, doen dit asb. so gou moontlik, maar in elk geval voor 31 Augustus. Dankie, vir u ondersteuning indien u dit intussen alreeds gedoen het. Indien u as nuwe lid wil aansluit, bel Maandag vir Mariska by 011 675 2393 vir volle besonder of besoek www.sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

Die uitslae van die SARL 80 m Klubkompetisie wat op Woensdag 28 Julie gehou is, is bekend gemaak. Die komitee het 20 logs van drie klubs ontvang. Die komitee is besorg oor die min belangstelling van ander klubs.

1st Wesrand ARK met 215 punte van 14 logs;
2nd Die ZS Kompetisiegroep met 79 punte van 2 logs;
3rd Die Suider-Afrikaanse Antieke Draadloosvereniging met 56 punte van 4 logs.

Dankie aan al die deelnemers. die volgende 80 meter Klubkompetisie is die digitale kompetisie op 29 September.

INTERNASIONALE VUURTORINGNAWEEK

Die Overberg Amateurradioklub sal ’n stasie by die Danger Point vuurtoring bedryf gedurende die Internasionale Vuurtoringnaweek van 21 tot 22 Augustus. Ander klublede ZS1AZ, ZR1NET en ZS1HR sal vanaf Kaap Infanta op die lug wees. Antwoord asb. indien u hulle hoor.

RAE-KLASSE

Die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging het begin met die Klas A RAE-kursus vir die eksamen in Oktober. Op 21 Augustus 2010 doen hulle HF-operateursopleiding met die oog op die HF-toets wat op die 9 de Oktober 2010 sal plaasvind.

Enige student is welkom om die HF-operateursopleiding en die HF-toets by te woon. Besoek die klub se webtuiste www.zs6kts.co.za vir kontakbesonderhede.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die 11de Augustus was die 46ste dag met ononderbroke amptelike sonvlekke, 'n nuwe rekord vir Siklus 24. Hierdie rekord sal hopelik binnekort verbeter word aangesien daar nuwe sonvlekke op 'n gereelde basis verskyn. Die vorige rekord is op die 5de Maart 2010 met 45 dae van ononderbroke sonvlekke opgestel. Woensdag was daar 5 sonvlekgroepe sigbaar gewees. Tans wil dit voorkom of slegs sonvlekke 1 093 en 1 098 nognie weggekwyn het nie. Sonvlek 1 093 is 'n interessante dubbel-sonvlek. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Gedurende die middae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Zeeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Swak 15 m-openinge is na Brasilië en Suid-Amerika gedurende die middae moontlik.

30 m kan vir die digitale en en gelykgolfentoesiaste baie belonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Augustus – Logstate vir SARL HF-foonkompetisie moet in wees;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
21 Augustus – HF-bedryfskursus in Kempton Park navrae na www.zs6kts.co.za;
21/22 Augustus – Internasionale vuurtoringstasies op die lug;
24 Augustus – Logstate vir Vrouedag JD-naelloop moet in wees na
zs4bfn@]netactive.co.za;
29 Augustus – SATNET om 19:30 op die lug;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003